Gesinne is die eerste linie van verdediging en ondersteuning in die beskerming van kinders. Dit was die boodskap wat Sondag deur die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, tydens die bekendstelling van Kinderbeskermingsmaand by die Mittah Seperepere-konvensiesentrum in Kimberley verkondig is. Zulu het gesê hoewel daar baie suksesvolle maatreëls ingestel is om te verseker dat kinders se regte en veiligheid bewaar word, is daar steeds 'n ernstige kommer oor kinders wat daagliks verwaarloos, mishandel en vermoor word. “Een van die groot bekommernisse vir my is die onaanvaarbare hoë vlakke van geweld teen kinders in ons land. Ons het almal gehoor van die tragiese verhaal van die sesjarige Joshlin Smith, wat op 19 Februarie 2024 vanaf Saldanhabaai vermis geraak het en tot vandag toe nog nie gevind is nie. Joshlin se verhaal is die hartverskeurende verhaal van baie kinders in ons land wie se regte geskend word en wat van hul kinderjare beroof word,” het Zulu gesê.