Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling waarsku die publiek teen ’n vals boodskap wat op sosiale media versprei word oor ’n sogenaamde “Nasionale Gesinsondersteuningstoelaag”. Die boodskap beweer dat President Cyril Ramaphosa Minister Sisisi Tolashe opdrag gegee het om registrasies vir ’n R1 682-toelaag oop te stel. Die Departement sê hierdie inligting is heeltemal vals en daar is geen nuwe toelaag of registrasieproses nie. Die boodskap is ’n bedrogspul wat daarop mik om mense se persoonlike inligting te steel. Die publiek word aangeraai om alle inligting op amptelike DSD-, SASSA- en regeringplatforms te verifieer en nie die vals boodskap te deel nie.