Die LUR vir Vervoer, LUR Koloi, het gister met vervoeroperateurs van die Namakwa-distrik om die tafel gesit om hul knelpunte eerstehands aan te hoor. Die ontmoeting vorm deel van haar voortgesette betrokkenheid by rolspelers in die vervoersektor.
Tydens die gesprek is uitdagings wat die bedryf plaaslik kniehalter, uitgelig, terwyl praktiese oplossings bespreek is om die sektor te versterk. LUR Koloi het die operateurs verseker dat die departement ernstig kennis neem van hul bekommernisse en stappe sal doen om die sake wat geopper is, aan te spreek.