Inwoners van Pofadder sit tans sonder water nadat ernstige infrastruktuurprobleme die dorp se toevoer tot stilstand gebring het.
Volgens plaaslike owerhede is die dorp se damme tans leeg, terwyl beide die ou en nuwe waterpypleidings op verskillende plekke beskadig is. Dit het daartoe gelei dat die waterstelsel nie funksioneer nie en geen toevoer tans moontlik is nie.
Spanne is reeds besig om die nodige materiaal te bekom om herstelwerk te doen, met die fokus om eers die ou pypleiding reg te stel. Die doel is om pompaksies teen vanaand weer aan die gang te kry.
Indien herstelwerk volgens plan verloop, word verwag dat watertoevoer teen môreoggend geleidelik herstel sal word.