Inwoners van Pofadder is vanoggend met nog ’n wateronderbreking gekonfronteer nadat ’n pyp gedurende die nag gebars het, wat verdere druk op die dorp se reeds kwesbare watervoorsiening geplaas het.

Herstelwerk het vroegoggend begin, maar die onderbreking het veroorsaak dat sommige gebiede lae waterdruk of glad geen toevoer ervaar het nie. Owerhede het inwoners versoek om water spaarsaam te gebruik terwyl werk aan die gang is en reservoirvlakke probeer herstel word.

Sowat twee ure later is daar egter goeie nuus vir inwoners van Brandewynsbult, waar die watertoevoer intussen suksesvol herstel is. Daar is wel gewaarsku dat die water aanvanklik modderig kan wees as gevolg van lug en sediment in die pype, maar dat dit vinnig behoort op te klaar.