Die Departement van Vervoer het begin met die ontwikkeling van ’n Nasionale Spoorwegmeesterplan ter waarde van R1,9 triljoen wat daarop gemik is om spoorvervoer teen 2050 as die ruggraat van Suid-Afrika se vervoerstelsel te herstel. In die Noord-Kaap het die belangrike spoorroete tussen Hotazel en die hawens van Gqeberha, wat hoofsaaklik gebruik word vir die vervoer van mangaanerts, toenemend plek gemaak vir padvervoer. Dit het volgens kenners ’n negatiewe impak op padveiligheid en die volhoubaarheid van infrastruktuur. Die meesterplan fokus op die modernisering en uitbreiding van spoorinfrastruktuur om vragvervoer meer doeltreffend, veilig en ekonomies volhoubaar te maak.