Vier verdagtes is in die afgelope week in hegtenis geneem tydens dwelmverwante operasies in Namakwa.

Volgens die SAPD is die arrestasies deel van voortgesette hoëdigtheids- en intelligensiegedrewe operasies onder Operasie Shanela II.

Twee 38-jarige mans is op 7 September tydens afsonderlike stop-en-deursoekaksies in Saal- en Bethelstraat in Concordia in hegtenis geneem nadat hulle na bewering in besit van dwelms gevind is.

In Loeriesfontein is ’n 45-jarige man op 8 September in hegtenis geneem op vermoede van dwelmhandel. Die polisie het op grond van inligting oor beweerde dwelmhandel ’n deursoekingslasbrief bekom en uitgevoer. Die verdagte het na bewering probeer om van die dwelms ontslae te raak deur dit in ’n toilet af te spoel, maar die polisie kon dit terugkry. ’n Onbekende bedrag kontant, wat vermoedelik die opbrengs van onwettige dwelmverkope is, is ook gekonfiskeer.

Nog ’n arrestasie het in die vroeë oggendure van 10 September in Plaatjie, Concordia, gevolg. ’n 36-jarige vrou is in hegtenis geneem nadat Mandrax-tablette met ’n geraamde straatwaarde van een-duisend-vyf-honderd rand na bewering tydens ’n deursoeking gevind is. Sy het daarna in die hof verskyn.

Die waarnemende distrikskommissaris van Namakwa, kolonel Moses Lekgwathi, het die polisiebeamptes betrokke by die operasies bedank. Hy het ook inwoners aangemoedig om dwelmverwante aktiwiteite by die polisie aan te meld.

Die SAPD sê Operasie Shanela II sal voortgaan om dwelmhandel en ander misdaadaktiwiteite in die distrik te bekamp.