Die gemeenskap het onder meer ’n petisie en dokumentasie aan die munisipale bestuurder oorhandig en aangedring dat bedrywighede by John 2-winkel ondersoek word. Hulle beweer dat die perseel op onwettige wyse goedgekeur is en dat daar moontlik omkopery betrokke was. Die gemeenskap sê hulle verwag om vroeg volgende jaar terugvoer oor die dissiplinêre en strafregtelike ondersoeke te ontvang.
Die Carolusberg-mynskagvoorval was ook op die agenda, met die gemeenskap wat kommer uitgespreek het oor wat volgens hulle die 17de sterfgeval in die gebied in verband met oop mynskagte en die OCC-damme is. Hulle sê diefstal en vandalisme van veiligheidsinfrastruktuur dra tot die gevaar by.
Daar is verder ooreengekom dat veiligheidsrelings en voetbrûe by Snoektown en White City opgerig sal word. Die munisipaliteit het volgens die gemeenskap ook onderneem om Rooiwinkel se gevaarlike toegangspad voor Kersfees te verbeter en die oop waterbergingsgebied met maasdraad te beveilig, nadat bobbejane glo toegang tot die tenk gekry het.
Die gemeenskap sê die vergadering het tot verskeie ooreenkomste gelei, maar beklemtoon dat hulle steeds antwoorde van Copper 360 oor hul bekommernisse verwag.