Nog vyf vas vir geldwassery

""Die DPCI sal voortgaan om korrupsie in al sy verskillende vorme te hanteer," het die nasionale hoof bygevoeg."

0

Na verwagting sal vyf addisionele verdagtes tussen 32 en 59 jaar oud, sowel as ‘n regspersoon (entiteit) in die Kimberley Hof vir Gespesialiseerde Handelsmisdaad verskyn nadat hulle gister (30 Junie) in hegtenis geneem is.

Die verdagtes  was op Woensdag 30 Junie 2021 deur die Valke se eenheid vir ernstige korrupsie in Mpumalanga, Vrystaat en Noord-Kaap met dagvaardings bedien.

Luitenant-Kolonel Philani Nkwalase, polisiewoordvoerder in die Noord-Kaap het gesê dat tussen die jare 2014 tot 2016 het die verdagtes van Griekwaland-Wes Koöperatief Beperk (GWK) na bewering met ‘n werknemer van AG Equipment Direct LLC (AG) saamgespan en pryse verhoog wanneer hulle vir toerusting aangevra het.

Die ondersoek deur die Valke het vasgestel dat die verdagtes GWK met sowat R5miljoen bedrieg het wat na bewering onder die verdagtes gedeel is.

“Voorheen is Johannes Lodewykus Kruger (60), Rudolph Kemp (47), George Wheeler (60) en Johannes Van Heerden (51) in November 2020 in hegtenis geneem en het verskeie kere in die landdroshof in Douglas opgetree weens korrupsie, bedrog en geldwassery,” het Nkwalase gesê.

Die nasionale hoof van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdade, luitenant-generaal Godfrey Lebeya, het die lede geprys vir die suksesvolle operasie wat die inhegtenisname van die ses verdagtes verseker het.

“Die DPCI sal voortgaan om korrupsie in al sy verskillende vorme te hanteer,” het die nasionale hoof bygevoeg.

Hierdie addisionele verdagtes is na bewering verbind met ‘n klag van geldwassery en sal na verwagting op 22 Julie 2021 in die hof verskyn.

Leave A Reply

Your email address will not be published.