Noord-Kaap Onderwys gerat vir 2021 akademiese jaar

Die toelating van leerders was 100% in Namakwa en Pixley Ka Seme voltooi.

0

Die Noord-Kaapse onderwysdepartement is gereed om vandag amptelik met die 2021 akademiese jaar te begin.

Die departement het verlede week bekendgemaak dat alle skoolgaande leerders vandag met hul klasse sal begin.

Die toelating van leerders was 100% in Namakwa en Pixley Ka Seme voltooi.

‘n Woordvoerder vir die departement van onderwys, Geoffrey Van der Merwe het gesê dat die distrikte Frances Baard, ZF Mgcawu en John Toalo Gaetsewe, na verwagting alle plasings gister sou voltooi.

“Die kantoor van die LUR is oorval met toelatingsappèlle van ouers wat by ‘n voorkeurskool aansoek gedoen het. Die departement is ook daarvan bewus dat ‘n aansienlike aantal ouers ‘n beroep op die kantoor van die LUR gedoen het, terwyl hulle ‘n aanbod ontvang het vir ‘n skool waarvoor aansoek gedoen is. Hierdie situasie het groot vertragings vir die departement veroorsaak.”

“‘n Groot aantal ouers het die hele proses vertraag, deur nie die plasings wat hulle aangebied was, te aanvaar of te weier nie.”

Die departement het sewe dae tyd gegee vir ouers om aansoeke te aanvaar of te weier.

Van der Merwe sê dat hulle daarin geslaag het om 1 549 leerders, wat die kantoor van die LUR geraadpleeg het, te plaas en die oorblywende 2 466 oor die volgende paar dae te verwerk.

Die Departement het vanaf die aanvang aangedui dat daar beperkte skoolruimtes beskikbaar is vir graad R.

Ouers van leerders wat nie ‘n plek by ‘n openbare skool gekry het nie, moet hul kinders by ‘n gemeenskapsgebaseerde perseel inskryf.

Ouers moet daarop let dat die verandering van skool nie toegelaat sal word, indien die huidige skool nie die volgende graad aanbied nie.

“Middelgraadaansoeke sal dus slegs oorweeg word waar skoolruimtes bestaan ​​en ouers uit ‘n distrik of provinsie verhuis het.”

Die Departement sal toesien dat alle leerders van verpligte skoolgaande ouderdomme, in skole geplaas word.

“Dit sal egter plaasvind by ‘n skool wat ruimte het en nie noodwendig by ‘n keuse-skool nie.”

Die Departement het waardevolle lesse geleer met die nuwe Aanlyn Toelatingsstelsel, wat ‘n eerste ervaring vir die departement sowel as ouers was.

“Ons bedank alle ouers, diegene wat die departement geprys het vir die goed funksionerende stelsel en ook diegene wat kritiek gelewer het. Oor die algemeen het ouers se ervaring van mekaar verskil, en ons neem kennis van al die kommentaar. Ons is vol vertroue dat die doeltreffendheid van die stelsel mettertyd beslis sal verbeter. Die departement sien uit na ‘n goeie begin van die akademiese jaar 2021, en wens alle opvoeders en leerders sterkte toe met die akademiese jaar.”

Leave A Reply

Your email address will not be published.