Noord-Kaapse LUR vir onderwys besoek skole in Namakwaland

Die LUR het 50 stelle skooluniforms aan verdienstelike leerders oorhandig.

0

Die Noord-Kaapse LUR vir onderwys, Zolile Monakali, het gister skole in die Namakwa-distrik besoek.

Hierdie besoeke is afgelê met die doel om die heropening van skole op Port Nolloth te evalueer.

‘n Woordvoerder vir die departement van onderwys, Geoffrey Van der Merwe het bevestig dat Hoёrskool Port Nolloth en Laerskool Port Nolloth, se gereedheid om leerders te ontvang die LUR tevrede gelaat het.

“Hierdie skole het met die ondersteuning van die Namakwa-distrikskantore verseker dat alle stelsels in plek is om leerders te ontvang, terwyl hulle aan Covid-19 veiligheidsmaatreëls voldoen.”

Die burgemeester van die Richtersveld Munisipaliteit, raadslid Arthur Jansen, wyksraadslid Beukes en die distriksdirekteur, mnr PTA Cloete, het die LUR vergesel.

50 Stelle skooluniforms is ook deur die LUR aan verdienstelike leerders oorhandig.

“Hierdie gebaar deur die LUR sal beslis bydra tot die opvoedkundige behoeftes van hierdie leerders, en ‘n positiewe impak op hul bywoning hê,” sê Van der Merwe.

Die LUR het ook alle leerders en opvoerders aangemoedig om die Covid-19 protokolle na te kom om die verspreiding van die virus hok te slaan.

Die Departement bly optimisties oor die 2021 akademiese jaar, en is vol vertroue dat die kurrikulumlewering vir alle grade met minimale ontwrigtings voltooi sal word.

Leave A Reply

Your email address will not be published.