NUWE BEMAGTIGINGSMAATSKAPPY WIL EKONOMIESE GROEI NA NAMAKWALAND BRING

 NUWE BEMAGTIGINGSMAATSKAPPY WIL EKONOMIESE GROEI NA NAMAKWALAND BRING

Foto: Verskaf @Edward Smit Melvina Mason-Engelbrecht, besturende direkteur van Ngwedi Molalatladi

Voormalige onderwyser, radiopersoonlikheid op verskeie radiostasies in Suid-Afrika, sakevrou, kampvegter vir Afrikaans, ‘n voorrmalige  werknemer van die ATKV en die ma van ‘n bekende TV-persoonlikheid, het Vrydag 4 Februarie haar maatskappy geloods by die Springbok Country Inn Hotel wat hoofsaaklik gaan fokus op vrouebemagtinging, werkloosheid onder die jeug, onderwysontwikkeling in die breë en om ekonomiese groei in die mineraalryke Namakwaland te realiseer.

Melvina Mason-Engelbrecht, besturende direkteur van Ngwedi Molalatladi het in haar bekendstellingstoespraak vertel van die uitdagings om haar voete te vind as vrou in ‘n ekonomie wat hoofsaaklik ontwerp is vir mans en die min geleenthede vir veral vroue om as entrepreneurs in Suid-Afrika hul merk te maak.

Met ‘n string kwalifikasies, ‘n onderwysspesialis, uitgebreide kennis in onderwys en gemeenskapsopheffingswerk oor verskeie spektrums en platfroms verlaat sy die Wes-Kaap na 38jaar. 

Haar begeerte om te kom nes te skop in Namakwaland nadat sy haar in die leënes stadium bevind het, het gou gerealiseer toe sy met ‘n Namakwalander, Leonard (Tim) in 2021 afgehak het. 

Melvina het in haar toespraak gedeel haar vele uitdagings as moeder van 4 oor haar lewenspad en om haar maatskappy te begin.  

Ongeag haar uitdagings het haar kroos uitgeblink op akademiese, sport- sowel, buitemuurse aktiwiteite sowel as die beroepslewe bereik. 

Sy wil dus graag ander, veral vroue en dogters, motiveer om nooit op te gee op hul drome nie en hulle te bemagtig tot ekonomiese onafhanklikheid. 

Sedert 1 Oktober 2021 fokus sy voltyds op haar nuwe onderneming, in samewerking met verskeie rolspelers onder andere: Quinton Adams, bekend as The Shackbuilder, haar dogters Beȧta Bena Green, te sien in 7de Laan en Tshidi Green, ‘n veeltalige wêreldreisiger met onderwyservaring in verskeie lande soos Colombia en Suid-Korea, ‘n familievriendin, Melanie du Bois, tans te sien in Arendsvlei so ook verskeie ander rolspelers wat waarde kan toevoeg en die dinamiek van ons plaaslike gemeenskappe verstaan.

Ngwedi Molalatladi se visie is om langtermyn en volhoubare ekonomiese groei haalbaar te maak vir veral vroue, jongmense en entrepreneurs en werkskepping moontlik te maak.

Die ekonomiese gaping moet verklein word vir die mense van Namakwaland wat bekend staan in geskiedkundige bronne as die ontstaan van die mynbou-industrie in Suid-Afrika in die vroeë 1800’s en tans identifiseer was as die kopermekka van die wêreld waar grootskaalse eksplorasiewerk deur die Orion myngroep tans aan die gang is.

“Ek kan nie wag om te sien die merkwaardige impak van Ngwedi Molalatladi onder die visionêre leiding  van Mason-Engelbrecht,” het Du Bois in haar toespraak gesê.

“Jou maatskappy  het ‘n verantwoordelikheid om die vlak van entrepreneurskap te verbeter en te verhoog vir die erfgename van die mineraalryke streek,” het Shackbuilder, Quinton Adams gesê, ‘n etnografiese navorser wat tans besig is met sy doktorale studies.

Adams was instrumenteel by die saamstel van ‘n strategie teen bendegeweld op die Kaapse vlaktes en doen pionierswerk tot armoedeverligting in die Wes-Kaap.

“Almal praat van werkloosheid onder die jeug, maar niemand het ‘n werkbare plan nie,” het hy ook met luisteraars gedeel tydens die lewendige radio-uitsending op Radio NFM 98.1

In sy gelukwensing met die bekendstelling van Ngwedi Molalatladi het hy kortliks geskets sy jarelange verbintenis met Mason-Engelbrecht wat saam met hom in sowat 125 gemeenskappe oor ‘n tydperk van 8jaar gewerk het.”Ons werk aan die siel van Suid-Afrikaners wat daagliks in armoede verdrink,” het Adams gesê.

Hy het Melvina geloof vir haar dinamiese leiereienskappe en ‘n vrou wat haar grense verbreed en die stukke van haar lewe moes bymekaar skraap na haar egskeiding en ‘n onderwyser-ma met vier kinders.

Beatè Bena Green, Uitvoerende bestuurder van Beatitude Trading wat hoofsaaklik fokus op jeugontwikkeling en teateropleiding vir veral jongmense wat die TV-industrie wil betree het via ‘n video-satelietboodskap haar ma geluk gewens in hierdie groot mylpaal.

Green kon nie die funksie bywoon nie weens haar kontraktuele verpligtinge as bekende akteur in o.a: Arendsvlei en 7de Laan.

Dr Gustav Bock, nuut verkose Burgemeester vir die Nama-Khoi munisipaliteit het tydens ‘n lewendige radio-uitsending op Radio NFM die nuwe bemagtingsmaatskappy verwelkom om ekonomiese groei in die streek ‘n werklikheid te maak.

”Dit is nou tyd om hande vuil te maak en te werk vir die mense van Namakwaland wat die erfgename is van die mineraalrykdom in ons streek. Melvina se visie met haar nuwe maatskappy sluit aan by die visie van ons nuwe administrasie en ons wens haar geluk met hierdie groot stap,” het Dr Bock gesê.

Steffani van Wyk, Bemarkingsbestuurder van die Spar-groep in Springbok het die gemeenskap van Springbok en omliggende dorpe bedank vir hul volgehoue ondersteuning aan Spar wat hierdie jaar hul 40ste bestaanjaar vier.

”Ons  moet ‘n opsetlike poging aanwend om verhoudings te bou in ons gemeenskappe en gebruik te maak van beskikbare talente. Ons is opgewonde om saam te werk met Ngwedi Molalatladi om ‘n verskil te maak in Namakwaland,” het van Wyk gesê.

Spar is een van die hoofborge by Radio NFM en ‘n voorstander van volhoubare ekonomiese groei in die streek.

Die glansgeleentheid was ook bygewoon deur TV- en radiopersoonlikheid, Lyntjie Jaars en verskeie sakemense van so ver as Wes-Kaap en oorsee met wie Mason-Engelbrecht oor die jare verhoudings gebou het en ook nou ‘n intensiewe rol sal speel in die visie van Ngwedi Molalatladi om sigbare ekonomiese groei en voordeel vir die mense van die Namakwa-streek ‘n werkliheid te maak.

”Ek heg waarde daaraan om gesonde verhoudings met mense te bou en ook daarin te belê,” het Melvina gesê wat tans te hoor is op haar program, TYDLOOS op Radio NFM en KOPSKUIF of 729 AM Radio Kaapse Kansel om mense se sienings en persepsies te  verander om hul potensiaal te verwesenlik.

Bernadine Hearn

Related post