Okiep se René Brown nou te sien op die silwerskerm

0

As dorpies soos Okiep deur mens se gedagtes maal, kom die idee op dat hier niks “goed” uit ons klein dorpies kan kom nie.

Gemeenskapslede kyk baie keer vas in armoede en jongmense stagneer, as gevolg van hul omstandighede.

In Okiep en omliggende dorpe, is meeste inwoners nie so bevoorreg om hul drome na te streef nie.

René Brown het hierdie stigma gebreek, toe sy die hoofrol in “Bloed Betaal” – ‘n rolprent wat op die Kaapse vlakte afspeel – losgeslaan het.

Die rolprent is op 04 Desember vanjaar uitgereik.

 

Brown het grootgeword op Okiep, en het haar vaardighede in kunste alreeds op skool begin opknap.

Sy het aan drama, dans, ontwerp en visuele kunste deelgeneem, en op 18 jaar besluit om na Kaapstad te verhuis.

Brown het nie gras onder haar voete laat groei nie, en onmiddelik aangesluit by die Magnet Theatre.

Sy het in 2018 van die instituut gegradueer.

 

‘n Facebook-advertensie wat akteurs soek vir ‘n Kaapse rolprent, het eendag Brown se oog gevang.

Eers het sy nie juis veel belangstelling getoon nie, omdat sy reeds besig was om te werk, maar metteryd het sy haarself oorreed om tóg deel te neem aan die oudisie.

Brown het ‘n toneelstuk uit Boesman en Lena gedoen, en die paneel was baie beïndruk met haar.

Sowat ‘n week het verbygegaan toe die paneel vir Brown laat weet, dat hulle by haar ‘n draai wil kom maak.

“Die paneel kon nie ophou om haar lof te besing nie, en sy het die hoofrol in “Bloed Betaal” losgeslaan.”

“Ek het uitgebars in trane. Ek kon dit nie glo nie! Dit was ’n fantastiese ervaring,” vertel ‘n baie opgewonde René.

Brown vertel verder dat sy haar lewe lank gewag het vir die oomblik, omdat sy vanaf 2012 gesukkel het, om ‘n deurbraak te maak in die industrie.

Brown het die karakter, Lucinda uitgebeeld, en erken dat sy gesukkel het om haarself in die karakter se skoene te plaas.

NFM se tegniese departement het “Bloed Betaal” se fliek voorskou aangeheg:

Leave A Reply

Your email address will not be published.