Oktober is borskanker maand

0

Oktobermaand word bewusmaking vir borskanker meer intens gedoen en baie mense dra pienk strikkies vir die bewusmaking daarvan.

Borskanker is ‘n kwaadaardige gewas wat ontstaan weens die ongekontroleerde en onbeheerde groei, en vermenigvuldiging van ‘n sel in die bors, wat ‘n reeks mutasies (veranderings) ondergaan het.

Hoewel die gewas aanvanklik net die bors raak, kan borskanker versprei wanneer selle uit die gewas ontsnap en deur die bloed en limfstelsel versprei na ander dele van die liggaam, soos die longe en skelet, waar dit vermenigvuldig en ander gewasse vorm.

Dié proses word metastase (uitsaaiing) genoem.

Daar is nie net ‘n enkele oorsaak van kanker nie.

Wetenskaplikes glo dit is die interaksie van baie faktore wat saam kanker veroorsaak, soos genetika, (oorerflikheid), vanuit die omgewing of weens fisieke eienskappe van die individu wees.

Sommige bors- (en ovarium) kankers word verbind met spesifieke genetiese mutasie, wat ook meer algemeen in sekere etniese groepe en families voorkom.

‘n Vrou se risiko om borskanker te kry, is drie keer groter as haar ma of haar suster ook borskanker gehad het.

‘n Risikofaktor is enigiets wat ‘n persoon se kans om ‘n siekte op te doen, vergroot, en sluit leefstylfaktore soos rook, ‘n dieet ryk aan vet, fisieke onaktiwiteit, oormatige gebruik van alkohol, asook obesiteit in.

As iemand met borskanker gediagnoseer word kan jy verwag dat jy ’n jaar of langer op die behandeling en herstelproses sal moet konsentreer.

Namate ’n vrou ouer word, neem die risiko toe. Sowat 80 persent van alle gevalle, kom by vroue ouer as 50 voor.

Borskanker is egter een van die mees behandelbare kankers is, trouens, 97% van vroue by wie borskanker in die vroeë stadium gediagnoseer is en nie versprei het nie, lewe nog vyf jaar nadat hulle daarmee gediagnoseer is.

In tussen vyf en 10% van die gevalle is vroue gebore met gene wat hulle vatbaar maak vir borskanker.

Maar in baie gevalle word gesonde gene blykbaar beskadig deur eksterne agente – waarvan straling en chemikalieë van die vernaamstes is.

Die volgende simptome kan opgelet word:

  • ’n Knop of verdikking op enige plek in die armholte of bors.
  • Enige afskeiding uit die tepel buiten borsmelk.
  • Enige verandering in die kleur of tekstuur van die vel.
  • ’n Tepel wat abnormaal ingeduik of teer is, skubagtigheid en afskilfering van die vel om die tepel.
  • Pyn (hoewel pyn baie selde ‘n simptoom van borskanker is), ongemak, swelling en ‘n warm gloed in die bors.

Kanker word gediagnoseer in net een uit elke 40 vroue wat enige van dié lys simptome onder die aandag van ‘n dokter bring.

Borskanker is wêreldwyd die algemeenste kanker by vroue.

Een uit elke 12 vroue loop die risiko om in haar leeftyd borskanker te ontwikkel.

Volgens die jongste uitgawe van die Nasionale Kankerregister van Suid-Afrika is borskanker die algemeenste kanker onder vroue in Suid-Afrika.

Die feit dat ‘n vrou ‘n vrou is, is die grootste enkele risikofaktor vir borskanker.

Mans kry ook borskanker, maar dit is baie seldsaam.

Vroue wat kanker in een bors gehad het, het ‘n groter kans om ook kanker in die ander bors te ontwikkel.

Vroue word sterk aangeraai om in die tydsverloop tussen gereelde mammogramme in ieder geval vanaf die ouderdom van 20 jaar gereeld self hul borste te ondersoek.

Dit beteken dat ‘n vrou haar borste maandeliks moet ondersoek vir ongewone tekens soos ‘n knop, bloeding of afskeiding uit die tepels.

Byna 70% van alle knoppe in die bors word deur vroue self ontdek en sowat 80% van dié knoppe is nie kwaadaardig nie.

Vroue word ook aangeraai om vanaf die ouderdom van 40 of 45 jaarliks ‘n kliniese borsondersoek deur ‘n ervare dokter of verpleegster te laat doen.

Vroue van 20 tot 40 jaar kan dié ondersoek elke drie jaar laat doen.

Die dokter ondersoek die borste om vas te stel of daar enige veranderings in die vorm of grootte is, en ondersoek ook die armholtes.

Leave A Reply

Your email address will not be published.