Ongeplaasde gemeenskapsdiensdokters behoort inentingprogram te versterk

0

Die Demokratiese Alliansie stel voor dat gemeenskapsdiensdokters in die Noord-Kaap wat nog nie deur die Nasionale Departement van Gesondheid geplaas is nie, dringend geabsorbeer word.

Dit is om die tekort aan 365 kontrakwerkers vir die inentingsprogram in die provinsie aan te vul.

Slegs 133 van die 288 gemeenskapdiensdokters reg oor die land is toegeken gedurende die middeljaarplasing, wat weens die impak van Kovid-19 op tersiêre instellings veroorsaak is.

DA woordvoerder van gesondheid, Dr. Isak Fritz, sê dat die DA klagtes van jong dokters in die Noord-Kaap ontvang het.

Die dokters is in ’n toestand van onsekerheid gedompel oor hul toekoms terwyl hulle op die regering wag om hul lot te bepaal.

Dit sluit glo dokters in wat aan die Castro-Mandela-program studeer het.

“Dit is ondanks die feit dat die Noord-Kaapse departement van gesondheid in sy begroting aangedui het dat ‘n bedrag van R26,405 miljoen bewillig is vir die opname van Kubaanse dokters, sê Fritz.

Volgens Fritz maak die Departement van Gesondheid verskoning, dat ‘n gebrek aan fondse verantwoordelik is vir hul versuim om gemeenskapsdiensdokters in diens te neem, nie sin nie.

Hy sê ook dat dit ondenkbaar is dat daar ’n ernstige tekort aan dokters in hospitale en fasiliteite regoor die provinsie is, maar die Departement van Gesondheid benut nie die potensiaal van jong, opkomende dokters om Kovid-19 te beveg nie.

Die DA in Noord-Kaap het hul bekommernis na die party op ’n nasionale vlak verwys.

Die party se voorstel om hierdie dokters vir die inentingsprogram te gebruik is verwys na die LUR vir gesondheid, Maruping Lekwene.

“Die gesondheidsektor moet dringend versterk word as ons uitendelik Kovid-19 wil oorkom,” sê Fritz.

Leave A Reply

Your email address will not be published.