Parlement bekommerd oor NK-skoolinfrastruktuur

 Parlement bekommerd oor NK-skoolinfrastruktuur

https://tcg.uis.unesco.org/wp-content/uploads/sites/4/2021/07/empty_room-2048×1022-1.jpg

Die Parlement se Portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys is bekommerd oor die stand van die skoolinfrastruktuur in die Noord-Kaap.

Voorsitter van die komitee, Bongiwe Mbinqo-Gigaba, sê aan OFM-nuus dat een van die skole wat hulle Woensdag in die ZF Mgcawu-distriksmunisipaliteit besoek het, eiendom by ‘n plaaslike boer in die omgewing huur.

Mbinqo-Gigaba sê die skool word ongelukkig nie goed onderhou nie en weens die huursituasie is dit nie duidelik wie se verantwoordelikheid dit is om die perseel in stand te hou nie.

Hoewel sy erken dat gevalle van vandalisme en inbrake wat by skole landwyd aangemeld word, ook sy tol eis op infrastruktuur, doen sy ‘n beroep op die provinsiale onderwysdepartemente om meer aan die saak te doen.

“Die kwessies van infrastruktuur is deurlopend. Maar soveel as wat hulle deurlopend is, moet daar ‘n deurbraak wees. Provinsies moet na hul infrastruktuurbegrotings kyk en toilette regmaak. Jy kan nie ’n skool bestuur nie en dan het jy onvoldoende toilette,” sê Mbinqo-Gigaba streng.

Die komitee is ook ontevrede met watergehalte by die skole wat hulle geïnspekteer het.

Die goeie nuus is egter dat die komitee van mening is dat die 2022-akademiese jaar in die provinsie skynbaar goed voortgaan – spesifiek by die skole wat hulle besoek het.

 Die komitee vergader Donderdag met die provinsie se LUR vir onderwys, Zolile Monakali, die komitee oor onderwys in die provinsiale wetgewer, georganiseerde arbeid, en die skoolbeheerliggaam (SBL) by die Hoërskool Duineveld in Upington.

Daar word verwag dat, afgesien van die voorgenoemde kwessies, die beskikbaarheid van leermateriaal, personeeltekorte en die impak van die Covid-19-pandemie fokusareas sal wees tydens hierdie besoek.

Hierdie Sentraal-Suid-Afrikaanse provinsie het die beduidendste verbetering in sy matriekuitslae vir 2021 gemaak in vergelyking met ander provinsies in die land.

Die Noord-Kaap se matrikulante het daarin geslaag om ‘n 71,4%-slaagsyfer in 2021 te behaal, vergeleke met 66% in 2020.

Premier Zamani Saul is in nasionale mediapublikasies aangehaal dat dit steeds onder die nasionale gemiddelde van 76,4% is.

Die ZF Mgcawu-distrik was die naasbeste presterende distrik ten opsigte van matriekuitslae, met die Namakwa-distrik wat die hoogste slaagsyfer behaal het met 81,2%.

Die Frances Baard-distrik, waarheen die komitee Vrydag oppad is, het derde gekom.

Bron: OFM-Nuus

Bernadine Hearn

Related post