PERSVERKLARING: ‘Groeiende waterkrisisse moet prioritiseer word’ – DA

0

Vroeёr vandeesweek het NFM Nuus verslag gedoen oor die waterkrisis wat tans in Hondeklipbaai ondervind word.

Die Noord-Kaapse provinsiale leier van die Demokratiese Alliansie (DA), Harold McGluwa, het die volgende persverklaring uitgereik:

 

“Groeiende waterkrisisse moet prioriteit word vir toekomstige volhoubaarheid van Noord-Kaap

deur Harold McGluwa LPW – DA Noord-Kaapse provinsiale leier.

 

Die regering se onvermoë om langdurige uitdagings vir watervoorsiening en infrastruktuur in die provinsie aan te spreek, kan ‘n ramp vir die Noord-Kaap veroorsaak ten spyte van goeie reënval in die algemeen.

Die jongste waterkrisis word in Hondeklipbaai in die Kamiesberg-munisipaliteit ondervind.

Die kern van die probleem lê vermoedelik by swak onderhoud van waterinfrastruktuur en onvoldoende watertoevoer vanaf die plaaslike reservoir. Die gevolge van hierdie krisis is verreikend en beïnvloed die hele gemeenskap. Dit sluit in dat plaaslike klinieke te midde van die tweede vlaag van die pandemie negatief geraak word en dat gastehuise wat die ekonomiese ruggraat van die dorp vorm, benadeel word. Die situasie, wat ‘n jaarlikse verskynsel geword het, het hierdie keer sedert Oktober verlede jaar voortgeduur en dit vererger die stryd teen die koronavirus sowel as die stryd om ekonomiese oorlewing.

Die DA verwelkom die reaksie op die waterkrisis deur die sakewêreld en die gemeenskap na aanleiding van oproepe om hulp van die DA-kiesafdelingshoof, Veronica Van Dyk, LP. Inwoners van Kleinzee het water geskenk en Coca-Cola het water vanaf Vredendal gestuur vir die gebruik van private huishoudings. Boere Droogtehulp SA NPC is ook op pad met 34 ton water, geborg deur Twizza.

Ons bly egter bekommerd oor die reaksie van die Kamiesberg Plaaslike Munisipaliteit op hierdie humanitêre krisis. Behalwe dat daar min tot niks gedoen word om die oorsake van hierdie krisis reg te stel nie, het die munisipaliteit ook geen standaard planne om die impak van die krisis te versag nie, aangesien geen vragmotors oor die naweek beskikbaar gestel was om water aan inwoners in nood te lewer nie.

Terwyl Van Dyk ‘n versoekskrif opgestel het om inwoners en toeriste die geleentheid te gee om kommentaar te lewer oor hoe die voortslepende waterkrisis hulle raak, sal ek vroeg volgende week Hondeklipbaai besoek om waterverwante toesiginspeksies uit te voer. Ek het ook die saak aan LUR van samewerkende regering, Bentley Vass en premier Zamani Saul verwys vir hul dringende aandag. Dit is saam met ‘n aantal ander waterverwante krisisse wat die DA sedert einde verlede jaar aan hulle aangemeld het vir ingryping, insluitend waterkwessies in Marchand, Keimoes, en Kakamas in die Kai! Garib-munisipaliteit, Hanover in die Emthanjeni-munisipaliteit, Victoria-Wes in Ubuntu, en Van Wyksvlei in die Kareeberg-munisipaliteit.

Die DA verwelkom die ontplooiing van watertenks in Noupoort, na aanleiding van my persoonlike interaksies met die burgemeester van Noupoort, Mzwandile Toto. Die regering sal egter baie dringender aandag moet gee aan die instandhouding, bestuur en beskerming van die provinsie se breër waterinfrastruktuur en ons skaars, lewegewende waterbronne, vir ons toekomstige welstand en volhoubaarheid.”

Leave A Reply

Your email address will not be published.