Polisiehond keer moordverdagte aan

"Die SAPD in Hartswater het 'n soektog geloods na die 31-jarige verdagte wat na bewering sy meisie se pa gesteek en vermoor het op Dinsdag, 7 September 2021."

0

Die patrolliehond van Hartswater se K9 -eenhed, Sem, het sy swemkuns vertoon toe hy ‘n voortvlugtige moordverdagte in die Hartsrivier, naby Pampierstad, aangekeer het.

Die SAPD in Hartswater het ‘n soektog geloods na die 31-jarige verdagte wat na bewering sy meisie se pa gesteek en vermoor het op Dinsdag, 7 September 2021.

Die voorval het omstreeks 15:30 in hul huis in Donkerhoek, Hartswater gebeur en word nog ondersoek.

“Die verdagte het van die toneel gevlug en is omstreeks 13:50 op Donderdag, 9 September 2021 in Pampierstad opgespoor, waar hy probeer vlug het deur oor die rivier te swem. Konst Ashley Kock het Sem in die rivier gestuur en die verdagte is halfpad terug gevind en uiteindelik deur die Hartswater K9-eenheid in hegtenis geneem”, het polisiewoordvoerder in die Noord-Kaap, kaptein Sergio Kock bevestig.

Die verdagte sal binnekort in die landdroshof in Hartswater verskyn.

Die distrikskommissaris van Frances Baard, Majoor Johan Bean, het die Hartswater K9-eenheid en Sem, die patrolliehond, toegejuig vir hul vinnige reaksie wat tot hierdie groot arrestasie gelei het.

Hy het die gemeenskap ook geprys vir hul hulp in hierdie verband.

Leave A Reply

Your email address will not be published.