Raak SONSLIM gedurende skroei-warm somermaande!

0

Namakwaland is bekend vir sy hitte en warm weerstoestande gedurende die somermaande, en die feesseisoen word soos vanjaar, glad nie uitgesonder nie.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het vir die afgelope twee dae, verskriklike warm weerstoestande vir Springbok en omliggende dorpe voorspel.

Die SAWD het ook gister ‘n waarskuwing vir ‘n brandgevaar of veldbrande vir Springbok en die Nama Khoi regsgebied uitgereik.

“Springbok se maksimum temperatuur vir vandag is 36°C en die temperature bly bokant 35°C vir die naweek.”

Inwoners word dus gemaan om hulself te beskerm teen die warm weerstoestande, asook die negatiewe impak van die son se UV-strale.

Velkanker is die algemeenste kanker wêreldwyd en dis tyd vir Namakwalanders om sonslim te raak, vir die res van die somermaande wat voorlê.

Suid-Afrika het van die hoogste gemonitorde ultravioletvlakke ter wêreld en so ook van die hoogste voorvalle van velkanker wêreldwyd.

Die kankervereniging van Suid-Afrika (CANSA) doen ’n beroep op individue om proaktief te wees oor die beskerming van hul vel, en bewus te wees van enige veranderinge aan hul vel.

“Wanneer dit kom by die klop van velkanker, is dit noodsaaklik om dit vroeg op te spoor. Kom in die gewoonte om maandelikse vel-ondersoeke te doen, met behulp van die ABCDE-riglyne op CANSA se webwerf.”

CANSA beveel ook aan dat mense ‘n vriend of familielid raadpleeg, om onsigtelike gebiede te bestudeer soos die kopvel, rug en boude.

“Enige onreëlmatighede moet onmiddellik by ‘n dokter of dermatoloog aangemeld word,” sê CANSA se hoof van diens, Gerda Strauss.

Die ABCDE-riglyne werk soos volg.

  • Asymmetry: ‘n merk met een helfte in teenstelling met die ander (nie simmetries). Algemene merke is rond en simmetries.
  • Border Irregularities: Swak gedefinïeerde rande. Gewone merke is egalig en het gelyke rande.
  • Colour Changes: Sonbrand, swart, bruin, rooi, wit en blou. Gewone merke is gewoonlik ‘n algemene skakering van swart of bruin.
  • Diameter: ‘n Merk se deursnee moet nie meer 6mm wees nie.
  • Evolve: Wanneer die merk groter en meer prominent raak.

Om velkanker te vermy kan die volgende stappe geneem word:

  • Vermy direkte sonlig tussen 10:00 en 16:00. Bly soveel as moontlik in die skadu.
  • Smeer gereeld sonskerm (SPF20-50) aan afhangende van u vel tipe.
  • Dra beskermende klere soos ‘n wye sonhoed.
  • Vermy sonbeddens en sonlampe.
  • Dra die geskikte sonbrille.
  • Doen ‘n maandelikse velondersoek.

 

Leave A Reply

Your email address will not be published.