Senior Staatsamptenare in hof vir bedrog

"Die trio sal na verwagting weer op Maandag 20 September 2021 in dieselfde hof verskyn."

0

Nevie Aubrey Baartman (62), ‘n voormalige munisipale bestuurder en twee maatskappydirekteure, het Maandag 21 Junie 2021 in die landroshof in Springbok verskyn op aanklagte van bedrog ter waarde van R79,9 miljoen.

Die beskuldigdes is op Woensdag, 2 Junie 2021, gedagvaar deur die Valke se Ernstige  Korrupsie-ondersoekspan om voor die hof te verskyn.

‘n Woordvoerder vir die Valke in die Noord-Kaap,  Nomthandazo Mnisi, het gesê, na bewering was die 38 jarige Maralise Lunnette Cloete en die 41 jarige Zihaadt Ismial Cloete die direkteure van ‘n konstruksiemaatskappy wat in 2013 deur die Nama Khoi-munisipaliteit in Springbok as ‘n suksesvolle bieër gekies is.

Dit volg op ‘n geadverteerde tender vir die verskaffing van plaveistene en randstene vir ‘n tydperk van drie jaar.

“Verder word beweer dat die maatskappy nie aan die nodige vereistes voldoen het nie en die verkrygingsproses na bewering verontagsaam is. Die geldwaarde daaraan verbonde is ongeveer R79,9 miljoen”, het Mnisi gesê.

Die saak is aan die Valke se eenheid vir ernstige korrupsie-ondersoek gerapporteer, wat uitgeloop het op die aanklag van bedrog saam met ‘n regspersoon (‘n entiteit).

Die trio sal na verwagting weer op Maandag 20 September 2021 in dieselfde hof verskyn.

Die ondersoek duur voort.

Leave A Reply

Your email address will not be published.