Springbok Superspar prioritiseer almal se veiligheid

0

Springbok Superspar het vanoggend in ‘n amptelike verklaring bevestig, dat drie personeellede positief getoets het vir COVID-19.

Die drie personeellede het verlede week Dinsdag hul werksverpligtinge tydelik gestaak en op Donderdag, positiewe uitslae vir die koronavirus ontvang.

Spar se bestuur het egter bevestig dat die winkel verlede week ontsmet is, en dat hulle die veiligheid van hul personeel en kliënte prioritiseer.

Spar het óók die afsterwe van een van sy personeellede bevestig, en hul innige meegevoel en simpatie met die oorledene se familie gedeel.

Spar verseker nog altyd dat personeellede en kliënte met hul aankoms by die winkel geskandeer word, en niemand met simptome word in die winkel toegelaat nie.

Kliënte se temperatuur word gemeet met ‘n infrarooi kamera, genaamd Karen, en enige persoon wie se temperatuur hoër is as 38 grade Celsius, sal nie in die winkel toegelaat word nie.

‘n Uurlikse fluitjie herinner personeellede om hul werksarea te ontsmet en hul hande te saniteer, en die winkel se trollies en mandjies word gedurigdeur ontsmet.

Superspar se bestuurslede is óók nou meer sigbaar op die vloer, om toe te sien dat almal die COVID-19 veiligheidsmaatreëls nakom.

Die winkel het in die verklaring ‘n beroep op alle inwoners, kliënte en die Spar-familielede gedoen, om verantwoordelikheid te aanvaar en hulself, asook hul geliefdes te beskerm teen COVID-19.

Foto: Verskaf
Leave A Reply

Your email address will not be published.