Sprinkaanbeheerkonferensie aan die gang in Noord-Kaap

"Luphahla sê die belangrikheid van gesamentlike beheer van sprinkaanplae, asook wetgewing oor sprinkaanbestryding, was een van die besprekingspunte aangesien toegang tot plase in die verlede 'n uitdaging vir sprinkaanbeamptes was."

0

’n Tweedaagse sprinkaanbeheerkonferensie is tans in Upington in die Noord-Kaap aan die gang waar planne beraam word in afwagting van nog ’n uitbreking van bruinsprinkane in sentraal Suid-Afrika.

Dié konferensie kom nadat waarnemings van bruinsprinkane voorheen in onder meer die Noord-Kaap sowel as die Vrystaat aangemeld is.

Zandisile Luphahla, die woordvoerder van die Noord-Kaapse departement van landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming, sê verskeie landbou-organisasies van die genoemde provinsies het die vergadering bygewoon waar planne bespreek is ter voorbereiding van ’n moontlike uitbreking van sprinkane vanjaar.

Die konferensie, wat op Woensdag 27 Oktober begin het, kom nadat sprinkaanplae verlede jaar sowel as voor die winter vanjaar in die Noord-Kaap uitgebreek het en op talle plase in onder meer die ZF Mgcawu-streek aangemeld is, asook die John Taolo Gaetsewe en Namakwa-streke.

Luphahla sê die belangrikheid van gesamentlike beheer van sprinkaanplae, asook wetgewing oor sprinkaanbestryding, was een van die besprekingspunte aangesien toegang tot plase in die verlede ‘n uitdaging vir sprinkaanbeamptes was.

Ander uitdagings wat tydens dag een van die konferensie onder die loep gekom het, was die kwessies van betaling van sprinkaanbeamptes wat nie betyds gedoen is nie.

Luphahla sê die departement werk daaraan om maniere te vind oor hoe hulle hierdie situasie die beste kan hanteer om te voorkom dat dit weer gebeur.

Luphahla doen ‘n beroep op enigiemand wat sprinkane gewaar om hul waarnemings by hul naaste landboudepartement aan te meld.

Mense kan ook hul plaaslike landbou-organisasies kontak.

Leave A Reply

Your email address will not be published.