Suid-Afrika skuif binnekort na Vlak 1 van die inperking

0

Suid-Afrika sal vanaf Sondag, 20 September skuif na Vlak 1 van die nasionale staatsinperking, wat in Maart vanjaar ingestel is.

Die doel van die grendelstaat is om die verdere verspreiding van die nuwe koronavirus, COVID-19 in die wiele te ry.

President Cyril Ramaphosa het die land gisteraand op hoogte gebring van die nuutste verwikkelinge in die regering se reaksie op die COVID-19-pandemie.

Ramaphosa het sy toespraak geopen en gesê: “Ons ekonomie en ons samelewing het groot verwoesting beleef. Ons het ‘n hewige en vernietigende storm verduur. Maar deur saam te staan, deur vasberade te bly, het ons dit weerstaan.”

“Ek wil u, die mense van Suid-Afrika, toejuig vir hierdie prestasie en vir die duisende lewens wat deur u gesamentlike optrede, gered is.”

Die president het gesê terwyl die vordering gemaak is, staar die land steeds ‘n dodelike pandemie in die oë.

Ramaphosa het aangekondig dat daar ‘n uitbreiding van COVID-19-toetsings sal wees, insluitend die toetsing van alle pasiënte wat in hospitale opgeneem is, buite-pasiënte met COVID-19-simptome en individue wat in noue kontak met bevestigde gevalle was.

Die president het gesê die staat sal ook kontakopsporing verbeter, deur middel van die COVID-waarskuwings-mobiele toep/’app’.

Die app is nie deur die mobiele netwerke gegradeer nie en kan sonder datakoste afgelaai word.

Met behulp van Bluetooth-tegnologie, sal die app gebruikers in kennis stel as hulle in noue kontak was met enige ander gebruiker, wat die afgelope 14-dae positief vir die koronavirus getoets het.

Die Departement van Gesondheid het ook WhatsApp- en SMS-stelsels vir mense sonder slimfone ontwikkel om hulle van toetsresultate te voorsien en hulle te waarsku oor moontlike blootstelling aan die virus.

Die president het aangekondig dat die land na Vlak 1 van die inperking gaan beweeg en gesê dat beperkings op internasionale reise geleidelik opgehef sal word.

“Ons sal vanaf 1 Oktober 2020, reis in en uit Suid-Afrika toelaat vir besigheid, ontspanning en ander doeleindes,” het Ramaphosa gesê.

Internasionale reisigers op lughawens en grensoorgange sal ondersoek word, om te voorkom dat besmette besoekers die land binnekom en bydra tot die verspreiding van die virus.

Internasionale reise sal beperk word tot spesifieke grensposte en lughawens.

“Ons is gereed om weer ons grense vir die wêreld oop te maak en reisigers uit te nooi om ons berge, strande, stede en wildtuine in veiligheid en vertroue te geniet,” het Ramaphosa gesê.

Die ure van die aandklok is óók verander. Die aandklokreël is nou van toepassing tussen middernag en 04:00.

Die verkoop van alkohol by kleinhandelaars vir tuisverbruik is nou toegelaat van Maandag tot Vrydag, van 09:00 tot 17:00.

Alkohol is slegs toegelaat vir verbruik op gelisensieerde persele, met die streng nakoming van die aandklokreël.

Die opgedateerde regulasies sal gepubliseer word en ministers sal binnekort gedetailleerde inligtingsessies lewer.

Die president het Suid-Afrikaners aangemoedig om voort te gaan met die nakoming van die belangrike COVID-19-veiligheidsreëls.

“Alhoewel ons daarin geslaag het om die virus te beheer deur middel van streng veiligheidsmaatreëls, bly daar ‘n bedreiging van ‘n tweede golf van infeksies,” het hy gesê.

“Belangrike voorsorgmaatreëls moet gehandhaaf word om ‘n nuwe toename in COVID-19-gevalle te voorkom.”

Leave A Reply

Your email address will not be published.