Twee Noord-Kaapse mans in hof vir moord op hul vroue

Twee verdagtes gaan vandag in die hof verskyn op moordklagtes.

0

Die Noord-Kaapse polisie het oor die naweek twee mans, in twee afsonderlike voorvalle in hegtenis geneem vir die moord op hul vroue.

Die polisie op Prieska het ‘n 55-jarige man in hegtenis geneem in verband met die moord op sy vrou.

Die verdagte het verlede Vrydagmiddag sy vrou, omstreeks 12:45 doodgesteek.

‘n Woordvoerder vir die polisie, Brigadier Mohale Ramatseba sê die voorval het in die Ethembeni-omgewing op Prieska plaasgevind.

Na wat verneem word, het die paartjie na bewering huishoudelike probleme gehad.

Die verdagte sal na verwagting vandag, 1 Februarie, voor die plaaslike landdroshof verskyn, hangende verdere polisieondersoek.

Ramatseba sê ‘n tweede verdagte is Saterdag, op Jan Kempdorp in hegtenis geneem in verband met geslagsgebasseerde geweld.

‘n 73-Jarige man staan tereg op ‘n moordklag nadat hy sy 56-jarige lewensmaat vermoor het.

Daar word beweer dat die verdagte en die slagoffer gestry het voordat hy haar met ‘n mes gesteek het.

“Die voorval het glo omstreeks 03:15 in die Ganspan-omgewing, op Jan Kempdorp plaasgevind.”

Die verdagte sal na verwagting vandag voor die plaaslike landdroshof verskyn.

Polisie-ondersoeke duur voort.

Ramatseba het bygevoeg dat vroue nie moet skroom om hulp te vra by godsdienstige leiers, maatskaplike werkers of ouer manne as hulle probleme ondervind nie.

Verder vra hy dat alle Noord-Kaap inwoners saam moet staan in die stryd teen geweld op vroue en kinders.

Leave A Reply

Your email address will not be published.