Tweede vlaag van COVID-19 infeksies nou op hande – Beukes

0

Die COVID-19-pandemie in die Namakwa-distrik lyk nie so goed nie, het Dina Beukes, distrikhoof van die department van gesondheid, in die distrik munisipaliteit aan NFM vertel.

Daar heers ‘n bekommernis rondom die subdistrikte, wat onder andere Hantam, Richtersveld en Nama-Khoi insluit, maar Nama-Khoi bly vir haar die grootste kopseer.

Daar heers veral nou groot kommer met die feestyd wat op hande is.

“COVID-19 kan nie alleen deur die departement en die polisie bestry word nie. Almal se samewerking is nodig.”

Beukes het gemaan dat ‘n gedragsverandering moet intree by die gemeenskappe van die distrik.

Die teenmiddel vir COVID-19 is besig om te realiseer, maar Beukes het beklemtoon dat dit ‘n “Dina Beukes-voorspelling” is, en dat die teenmiddel eers teen die einde van volgende jaar beskikbaar vir ons sal wees.

Die teenmiddel sal nie vir almal onmiddellik beskikbaar wees nie, en gaan in kategorieë ingedeel word, asook volgens prioriteit.

Die hoë-prioriteitspasiënte gaan dit eerste kry en so sal dit afgaan in die lyn, totdat die lae-prioriteitspasiënte gedoen is.

Volgens Beukes, is die beste teenmiddel op hierdie stadium, net gehoorsaamheid van inwoners.

“Deur jou masker te dra, gereeld jou hande te was/ontsmert en sosiale distansiëring toe te pas, kan jy lewens red hierdie feesseisoen”, het Beukes gesê.

Die sosiale distansie onder inwoners is besig om geweldig en kommerwekkend af te neem.

Groot sosiale byeenkomste moet vermy word en streng COVID-19 veiligheidsprotokolle, moet nou deel van mense se elke-dag-roetines word.

As inwoners by groot sosiale byeenkomste was, en in kontak was met baie mense, moet hulle hulself kwarantyn – wat dien as ‘n veiligheidsmaatreël ten opsigte van die verspreiding van die virus.

As isolaise of selfkwarantyn nie moontlik is nie, moet inwoners gebruik maak van die gesondheidsdepartement se kwarantyn- en isolasiefasiliteite.

Leave A Reply

Your email address will not be published.