Verdagte in hof vir die onwettinge besit van pangolien

"Nomthandazo Mnisi, woordvoerder vir die Valke het bevestig dat die verdagte op Vrydag, 1 Oktober 2021 in hegtenis geneem is nadat inligting na vore gekom het oor iemand wat na bewering 'n pangolien vir R200 000 verkoop het."

0

Sipho Bosman (25) het Maandag 4 Oktober in die landdroshof in Kuruman verskyn op aanklag van die onwettige besit van bedreigde spesies ingevolge die Wet op Biodiversiteit op Nasionale Omgewingsbestuur 10 van 2004.

Nomthandazo Mnisi, woordvoerder vir die Valke het bevestig dat die verdagte op Vrydag, 1 Oktober 2021 in hegtenis geneem is nadat inligting na vore gekom het oor iemand wat na bewering ‘n pangolien vir R200 000 verkoop het.

“’n Steekoperasie is uitgevoer deur die span van die Valke se Ernstige Georganiseerde Misdaadondersoek met die hulp van Veediefstaleenheid en Plaaslike Kriminele Rekordsentrum (LCRC), wat daartoe gelei het dat die verdagte gearresteer is nadat hy in besit van die genoemde pangolien gevind is,” het Mnisi gesê.

Die saak teen Bosman is tot 26 Oktober 2021 uitgestel terwyl hy op ‘n waarskuwing vrygelaat is.

Leave A Reply

Your email address will not be published.