Verdagtes vas vir ongeruimdhede

 Verdagtes vas vir ongeruimdhede

Foto: Verskaf @Noord-Kaap SAPD

Tussen 02:00 en 12:00 op Vrydag, 28 Januarie 2022, is vyf mans tussen die ouderdomme van onderskeidelik 25 en 38 jaar deur Van Zylsrus SAPD gearresteer vir knoeiery, beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur en diefstal.

Luidens berigte het die Stasiebevelvoerder van Van Zylsrus, Luitenant-Kolonel Du Plessis en lede onder sy bevel vinnig gereageer op ‘n klagte van ‘n Toyota-bakkie wat na bewering by die plase rondgery het.

Lede het die voertuig opgemerk volgens die beskrywing.

Toe die verdagtes die polisie gewaar, het die drie manlike verdagtes die veld ingehardloop.

Met die deursoeking van die bakkie het die polisie 24 selfone, toringbatterye, ‘n kragopwekkerbattery en 20 liter diesel in die voertuig ontdek.

Die bestuurder is in hegtenis geneem nadat hy versuim het om bewys van eienaarskap van die items te lewer.

Later het die lede ‘n verlate Toyota Etios langs die pad gevind en dit deursoek.

Huis inbraak gereedskap is binne die voertuig gevind.

Met die hulp van boere in die Van Zylsrus-distrik is al drie verdagtes in hegtenis geneem terwyl hulle in die bos weggekruip het.

Twee voertuie is saam met alle gesteelde items gekonfiskeer.

Alle verdagtes sal binnekort in die Kuruman-landdroshof verskyn.

Die waarnemende Distriksbevelvoerder van JTG, Brigadier Johnny Besnaar het Luitenant-Kolonel du Plessis sy lede geloof vir hul vinnige reaksie op die klagte, wat gelei het tot die arrestasie en konfiskering van die vermoedelik gesteelde eiendom.

Bernadine Hearn

Related post