#VROUEMAAND: Fourie, inderdaad ‘n merkwaardige vrou

0

Die motiveringstrofe in die Fourie huishouding is: “Kan nie, is dood van kruiwa stoot.” Kortweg beteken dit; jy kan alles bereik as jy net volhard.

Cecile Fourie, ‘n omroeper by Radio NFM en pastoorsvrou, is een van agt kinders en hulle moes redelik ‘meet en pas’ om deur te kom.

“Gelukkig het ons by die koöperasie ons mieliemeel in lapsakke gekoop, en dit was skoon uitgewas wanneer dit leeg geraak het, om onderklere van te maak”, laat Fourie hoor.

Die kinders het die Singer-naaimasjien gebruik vir hierdie doeleinde, want die elektriese-naaimasjien was nèt Mamma se eiendom, en niemand kon en mag daaraan vroetel nie.

Fourie vertel dat hulle bevoorreg was om hul grootouers saam met hulle in die huis te kon hê.

Haar pa se ouers is kort na mekaar oorlede, en toe het haar ma se ouers, wat toe haar oom se drie dogters moes grootmaak, óók by hulle ingetrek.

Hul huisgesin het bestaan uit 4 volwassenes en 11 kinders (10 dogters en een seun).

“Ons het die klein ‘prinsie’ tot in die afgrond bederf.”

Die hospitaal se ongevalle-eenheid was goed met haar ma bekend, en het haar op haar voornaam geken.

“Die rede daarvoor was uiteraard omdat ons as kinders, so lief was om kattekwaad aan te vang. Kinders wat aan ‘n doringdraad vasgehaak het, of ‘n arm of been gebreek het, of ‘n klompie steke moes kry oor een of ander rede. Dit was sorgvrye dae.”

Fourie vertel dat die groentetuin en ‘n paar hoendertjies gesorg het dat hulle altyd genoeg kos gehad het.

Hierdeur het hulle as kinders geleer dat mens jouself kan versorg, deur jou dae reg te beplan.

Tannie Cecile, soos sy bekendstaan onder die omroepers by Radio NFM, was altyd nuuskierig, wat graag nuwe dinge nagevors het, en uiteindelik ook Bybelkunde studeer het.

Sy is getroud met Pastoor Johan Fourie op 30 Maart 1974 en die paartjie is geseën met twee kinders; Ancil wat op 1 Oktober 1975 gebore is en Jaco op 3 Junie 1977.

Vir 31 jaar het die paartjie in die Volle Evangelie Kerk bedien, vanaf 1976 tot en met 2007.

Die AGS-Springbok het in November 2007 die Fouries beroep, en hulle het daar bedien tot in 2016.

Sy noem dat dit ‘n groot seën is om naby die see te kan woon.

Die kerk is ongelukkig 30 km weg van hulle, maar hulle besoek dit ten minste twee keer per maand.

”Ons hou midweek dienste – in engels op Vrydae en in Afrikaans op Donderdae”, het Fourie gesê.

Soggens stuur sy ‘n twee-minute stemboodskap op WhatsApp uit, en hou haar bedrywig met ‘n bietjie radiowerk.

Sy is ‘n bobaas-bakster en geniet dit terdeë, om koeksisters en vrugtekoeke te bak.

Sy kry een keer per maand die geleentheid om verversings by die kerk te bedien, en soms help sy ook uit op vlooimarkte en fondsinsamelings.

“Daar is nie tyd vir my om verveeld te raak nie.”

Sy vertel dat sy soms baie na haar Namakwalandse vriende verlang.

In hierdie oomblikke bid sy net dat die Here hulle sal seën met Sy oorvloedige liefde, wat baie meer werd is as net geld.

“My wens vir vrouemaand vir elke vrou in Namakwaland, en wat na ons radiostasie se uitsendings luister is; dat jy die liefde van God sal ervaar.

Doen jouself die guns, gaan sit net stil, en VOEL SY Liefde vir jou. Dis vervullend en bevrydend.

Dit gee jou drome vlerke, en inspireer jou tot die beste jy-wees.

Toe God Eva gemaak het, noem Hy haar – helper.

Die Heilige Gees word genoem – helper.

So awesome om dit te bedink – dat God JOU waarde so hoog stel.

Kom ons lewe WAARDIG.”

Leave A Reply

Your email address will not be published.