Zolile Monakali ingesweer as nuwe LUR vir Onderwys in Noord-Kaap

0

Die Premier van die Noord-Kaap, Dr. Zamani Saul het vroeër vandeesweek, Zolile Monakali, as die nuwe LUR vir Onderwys in die provinsie aangewys.

Dit kom nadat die voormalige LUR vir onderwys, Mac Jack in Augustus vanjaar, weens COVID-19 verwante komplikasies gesterf het.

Die woordvoerder vir die premier, Bronwyn Thomas-Abrahams het in ‘n amptelike verklaring bevestig dat Monakali ‘n ervare staatsamptenaar is.

“Monakali bring ‘n magdom ervaring saam, wat sal verseker dat die kwaliteit van onderwys, regoor die provinsie verbeter word.”

Die Premier is vol vertroue dat, met die steun van sy kollegas in die Uitvoerende Bestuur, die Wetgewer en in die Provinsiale Administrasie, dat die agenda vir gehalte-leer en -onderrig ‘n prioriteit sal bly.

Monakali is op Prieska gebore en het sy onderwysloopbaan aan die Hoërskool Ethembeni in 1994 begin tot 1999, as onderwyser op vlak 1.

Hy was daarna departementshoof en het later skoolhoof geword.

Hy het ook van 1999 – 2004 as adjunkhoof skoolgehou aan Heuwesig.

Hy het tot 2005 by die departement van onderwys, in die streekkantoor van die Pixley ka Seme-distrik gewerk as fasiliteerder vir vaardigheidsontwikkeling.

Monakali het daarna diens aanvaar by die Siyathemba Plaaslike Munisipaliteit, as direkteur vir korporatiewe dienste en later as munisipale bestuurder by die plaaslike munisipaliteit in Thembelihle, tot 2010.

Daarna is hy aangestel as distriksdirekteur vir COGHSTA, vir ‘n tydperk van tien jaar tot 2019, toe hy as Uitvoerende burgemeester van die Pixley ka Seme-distrik tot vroeg in 2020.

Monakali is gister deur Premier Saul amptelik ingesweer.

Hy het intussen sy pligte as LUR vir Onderwys in die Noord-Kaap aanvaar.

Leave A Reply

Your email address will not be published.