Die blomme is in volle blom by Namaqua Nasionale Park en landskappe is bedek met skouspelagtige blomme van binneland tot kusgedeelte van die Park. Afhangend van die weer, sal die blomme hopelik tot einde September 2023 goed hou. Die Namakwaland-streek van Suid-Afrika val binne die Sukkulente Karoo-bioom, wat geïdentifiseer is as een van die wêreld se 34 biodiversiteit-brandpunte. Daar is net drie brandpunte in Suid-Afrika. In vergelyking met streke met soortgelyke semi-droë omgewings is die rykdom van hierdie Bioom uitsonderlik. Namakwaland word verder van ander woestynstreke onderskei deur die teenwoordigheid van die volgende families: Mesebryanthemaceae (vygies); Iridacea (irids); Hyacinthaceae (lachenalias) en Crassulaceceae (crassulas).