Die 21-JARIGE fotograaf Sue-Relle Maasdorp, van Aggeneys, het die eerste plek gekry nadat sy 'n multimedia vaardigheidsontwikkelingsprogram voltooi het wat ontwerp is om die jeug in die gemeenskap te bemagtig. Die jaar lange program word deur die plaaslike Aggeneys Solar- en Konkoonsies II-sonkragaanlegte befonds en deur Phanda Studios gefasiliteer. Die program het nie net werklose jeugdiges opgelei nie, maar het ook klein besighede in die multimedia-ruimte 'n hupstoot gegee. Die talentvolle Maasdorp is nou daarop ingestel om haar eie multimedia-onderneming te registreer, terwyl sy aktief saamwerk met ander kreatiewe persone van die omliggende omgewing en aan hulle die geleentheid bied om saam met haar te werk aan vryskutfotografie en videografie werke.