Die Kai !Garib-munsipaliteit in die Noord-Kaap ondervind sedert September waterprobleme. Inwoners van Kakamas het die munisipaliteit tot Maandag (4/3) gegee om op hul eise en griewe te antwoord. Hulle het Vrydag (24/2) ’n memorandum by die burgemeester ingedien. Hulle sukkel al byna ses maande sonder water. Wanneer daar wel water is, is dit donkerbruin en ruik baie sleg. “Water is van verlede jaar ’n probleem en in hierdie uiterste weerstoestande bedreig dit mense se bestaan en raak dit ’n haglike toestand,” sê  Anelma Steenekamp. “Die afgelope vyf maande het dele van die gemeenskap geen water gehad nie, of inwoners het water gekry wat lukraak aan- en afgesit is. Dit is kommerwekkend, want dit is ’n gemeenskap in ’n semi-woestyngebied,” sê sy.