Die staatsbeheerde diamantmynmaatskappy Alexkor en sy vennoot, die Richtersveld Mining Company, staan tans voor ’n skade-eis van meer as R500 miljoen. Die eis volg op ’n langdurige regstryd oor prospekteerregte in die Noord-Kaap. Die eis is ingedien deur Vast Mineral Sands, wat aanvoer dat Alexkor onwettig toegang tot prospektering op meer as 82 000 hektaar grond in die Richtersveld geweier het, ondanks dat prospekteerregte aan hulle in 2018 toegestaan is. Volgens VMS het die vertragings gelei tot finansiële verliese, beëindigde beleggingsooreenkomste en skade aan hul reputasie.