Die Noord-Kaapse Departement van Gesondheid het inwoners gemaan om nie vals sosiale media-inhoud oor siekte-uitbrekings te versprei of te glo nie. Dit volg ná ’n misleidende plakkaat oor ’n beweerde hantavirus-geval by die Sol Plaatje Universiteit in Kimberley. Die departement sê hy bly gereed om enige moontlike toename in griepgevalle te bestuur. Inwoners, veral kwesbare groepe soos bejaardes, swanger vroue en chroniese pasiënte, word aangemoedig om griepinentings by hul naaste gesondheidsfasiliteit te ontvang voordat die winterseisoen vererger.