Inwoners van die Kai !Garib Munisipaliteit in die Noord-Kaap sê hulle het min vertroue dat dienslewering in die gebied sal verbeter. Die munisipaliteit, wat Keimoes, Kakamas en Kenhardt insluit, sukkel al jare met basiese dienste soos water en sanitasie. Gemeenskappe kla oor voortdurende probleme en swak infrastruktuur. ’n Onlangse verslag van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het bevind dat die munisipaliteit reeds vir jare disfunksioneel is en kommer uitgespreek oor die bestuur en vermoë om doeltreffende dienslewering te verseker.