Twee leerders van SA Van Wyk Hoërskool in Springbok het deurgedring na die Top 30 van die nasionale Maak My ’n Miljoenêr-entrepreneurskompetisie.
Rewano Saal en Adelay Isaaks is onder die land se voorste jong entrepreneurs aangewys ná verskeie keuringsrondtes waaraan honderde deelnemers deelgeneem het. Die kompetisie fokus op die ontwikkeling van entrepreneurskap deur mentorskap, opleiding en praktiese sake-uitdagings.
Die twee leerders sal gedurende die Julie-vakansie aan verdere uitdagings regoor die land deelneem, waar hul leierskap, probleemoplossingsvermoë en sakekennis getoets sal word. Die uiteindelike wenner van die kompetisie sal later vanjaar aangekondig word.