’n Gemeenskapsbemagtigingsprogram in die Kamiesberg het verlede week inwoners die geleentheid gebied om uitdagings soos geweld, uitsluiting, verslawing en armoede te bespreek.

Die Kamiesberg-landskap se EKOWIL-kapasiteitsbou- en gemeenskapsaktiveringsprogram het deelnemers toegerus met vaardighede in gemeenskapsaktivisme, digitale voorspraak, leierskap en geslagsinsluiting. Die program het veral op vroue, jongmense en LGBTQIA+-gemeenskapslede gefokus.

Volgens die organiseerders was die doel om inwoners te bemagtig om ’n aktiewe rol in die ontwikkeling van hul gemeenskappe te speel. Die projek is ondersteun deur Conservation South Africa en mede-befonds deur die European Union.