Die Noord-Kaapse LUR vir Finansies, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Venus Blennies-Magage, het ’n beroep op die toerismesektor gedoen om digitale platforms beter te benut. Sy het tydens die mediabekendstelling van die Tri-Provinsie Toerismemaand in Colesberg gesê digitale sigbaarheid moet in werklike ekonomiese geleenthede omskep word. Blennies-Magage het beklemtoon dat toerisme-KMMO’s, veral jongmense en ondernemings wat deur vroue bestuur word, met die nodige digitale vaardighede bemagtig moet word om markte te bereik en inkomste te genereer.