Die Noord-Kaapse departement van Paaie en Openbare Werke het twee skrapers na Kuboes in die Richtersveld ontplooi om die swak toestand van verbindingspaaie in die gebied aan te spreek.
Die aankondiging volg ná ’n gemeenskapsvergadering met Bentley Vass, LUR vir Paaie en Openbare Werke, by die URC-sentrum in Kuboes. Vass het tydens die vergadering die uitdagings erken wat inwoners weens die swak paaie ervaar.
Volgens die departement sal Vass ook met premier Zamani Saul in gesprek tree oor die moontlikheid om paaie reeds in die 2027/28-boekjaar te teer. Hy het verder aangedui dat omliggende myne betrek moet word om moontlike bydraes tot die instandhouding en verbetering van paaie wat vir mynboubedrywighede gebruik word, te bespreek.