Die Khâi-Ma Munisipaliteit sê sy spanne is tans besig om die watervlakke van die Oranjerivier te assesseer en rivieronttrekkingspompe te installeer as ’n alternatiewe oplossing om water aan Onseepkans te voorsien.
Dit volg nadat die dorp se reservoirvlakke baie laag tot leeg gedaal het en inwoners reeds wateronderbrekings ervaar het.
Die waterprobleem word toegeskryf aan elektriese foute wat die landbou-waterstelsel beïnvloed. Die fout is by Eskom aangemeld en die landbouspan wag steeds op bystand om die elektrisiteitstoevoer te herstel. Die fout het tot gevolg dat die bestaande pomptoerusting nie normaal kan funksioneer nie.
Die munisipaliteit sê indien die installering van die rivierpompe volgens plan verloop, kan daar moontlik vanmiddag begin word om water te pomp, met die doel om water teen môreoggend aan die gemeenskap beskikbaar te stel.
Die munisipaliteit vra inwoners om die beskikbare water spaarsamig te gebruik en sê hy verstaan die uitdagings wat die voortslepende wateronderbreking veroorsaak. Inwoners se geduld en samewerking word ook waardeer.