Die Noord-Kaapse LUR vir Sport, Kuns en Kultuur, Mangaliso Matika, en Richtersveld se burgemeester, Cornell Knoph, het Woensdag ’n veelsydige sportbaan aan die Kuboes-gemeenskap oorhandig. Soortgelyke fasiliteite is ook in Lekkersing, Eksteenfontein en Sanddrift oorhandig. Die projekte word deur die Munisipale Infrastruktuurtoelae befonds. Bouwerk aan ’n vyfde sportfasiliteit sal binnekort begin. Die bane maak voorsiening vir sokker, netbal, basketbal en tennis. Die ontwikkeling het ten doel om sportdeelname te bevorder en gemeenskappe van toeganklike ontspanningsgeriewe te voorsien.