Vedanta Zinc International (VZI) het op Vrydag, 05 Augustus 2022 die tweede fase van die Gamsberg-projek geloods.
Die statige geleentheid was bygewoon deur die Hoof Uitvoerende Beampte vir besigheid van VZI, Mnr. Arun Misra, tesame met die Noord-Kaapse Premier Dr. Zamani Sau en die LUR verantwoordelik vir Finansies, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, mnr. Abraham Vosloo.
Die tweede fase ter waarde van R7 miljard is deel van die R21 miljard wat Vedanta verbind het by die beleggingskonferensie wat die President in 2018 gehou het.
Die myngroep het in 2015 die eerste fase van Gamsberg geloods.
Die tweede fase sal sowat 2 500 mense in diens neem tydens die konstruksiefase en 1 000 tydens die bedryf.
“Met ‘n leeftyd van meer as 30 jaar, is die projek gereed om ‘n groot verskil te maak, nie net in die Namakwa-gemeenskap nie, maar regdeur die provinsie en land”, het die Premier tydens sy amptelike toespraak laat hoor.
Premier Saul het die myn bedank vir hul volgehoue ondersteuning aan die provinsie, en hul bydrae om die werkloosheidsyfer in die provinsie te verminder.
Die fase 2-uitbreiding van die Gamsberg-sinkmyn, word beplan om die mynkapasiteit te verdubbel tot agt miljoen ton per jaar (Mtpa) van run-of-myn (ROM) erts.
Die terrein lê ongeveer 30 km vanaf die Black Mountain Mynterrein op Aggeneys en 120 km oos van Springbok, langs die nasionale roete, N14.
Gamsberg is die grootste sinkmyn in Afrika, met ‘n geskatte mynleeftyd van meer as 30 jaar.
Die Gamsberg-sinkmyn is ‘n oopgroefmynoperasie wat ‘n konvensionele boor- en skietmetode gebruik, gevolg deur laai en vervoer.
Die Noord-Kaapse Provinsiale Regering bly verbind tot sy visie om ‘n moderne groeiende en suksesvolle Provinsie te bou, saam met die private sektor tot voordeel van die mense van die Noord-Kaap.