Inwoners van die Pixley Ka Seme-distriksmunisipaliteit in die Noord-Kaap sê hulle hoop die Nasionale Klein Ondernemings Wysigingswetsontwerp sal beter ekonomiese geleenthede bring. Die wetgewing het ten doel om ‘n klein ondernemingsontwikkelingsfinansieringsagentskap te stig en die minister te bemagtig om praktyke te verklaar om onbillike handelspraktyke te voorkom. Die deelnemers het die stigting van die agentskap verwelkom en gevra vir satellietkantore binne die munisipaliteite vir makliker toegang. Sommige deelnemers het egter twyfel uitgespreek dat die wetsontwerp die groei van klein entiteite sal help. Die Portefeuljekomitee oor Kleinsakeontwikkeling het die naweek openbare verhore oor die Wetsontwerp gehou.