Die Noord-Kaapse regering is onder skoot omdat hulle na bewering miljoene rande onreëlmatig bestee het aan ANC-geaffilieerde leerling-verkeersbeamptes wat slegs telefonies ondervra is en nie gekeur is soos deur die wet vereis word nie. Die Noord-Kaapse departement van vervoer, veiligheid en skakeling het aanvanklik poste geadverteer vir 25 leerling-provinsiale inspekteurs om by weegbrûe regoor die provinsie te werk, asook by verkeerstasies en vir padveiligheidsopvoeding en wetstoepassingstatistieke. Advertensies vir die poste wat in September verlede jaar uitgereik is, toon dat die leerlinge elkeen 'n maandelikse toelae van R7 000 (R2,1 miljoen vir al 25 per jaar) sal ontvang terwyl hulle by die Matjhabeng Verkeersopleidingsakademie in Welkom opgelei word.