Die polisie in die Noord-Kaap het by ‘n winkel in Upington beslag gelê op onwettige sigarette ter waarde van drie-komma-nege-miljoen rand. Die polisie het die winkel deursoek nadat hulle inligting oor die beweerde verkoop van onwettige sigarette ontvang het. Tydens die inspeksie het hulle op 153 meesterkiste sigarette afgekom wat in ‘n stoorkamer versteek was. Die eienaar het versuim om fakture vir die sigarette te verskaf. Die polisiewoordvoerder, sersant Omphile Masegela, sê die operasie is deel van volgehoue ​​pogings om kriminele aktiwiteite tot die minimum te beperk.