Die Springbok Suid- Afrikaanse Polisiediens se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe volg steeds alle leidrade op in die ondersoek na die verdwyning van die 14-jarige David Waterboer van Nababeep, wat sedert 7 Februarie 2025 vermis is. Intussen word ’n saak van afpersing en omkopery ondersoek nadat ‘n familielid van die vermiste seun tussen 20 en 25 Februarie boodskappe ontvang het van ‘n onbekende persoon wat geld geëis het. Die polisie waarsku die publiek teen die verspreiding van vals inligting op sosiale media, aangesien dit die ondersoek bemoeilik en onnodige paniek veroorsaak. Die SAPD doen ‘n dringende beroep op enigiemand met geloofwaardige inligting om dit onmiddellik met die owerhede te deel.