Herstelwerk aan twee groot lekkasies op Kimberley se hoofwaterpyplyn vorder vinniger as beplan, maar inwoners word steeds versoek om geduldig te wees terwyl die proses afgehandel word.

Volgens die Sol Plaatje-munisipaliteit het werkers goeie vordering gemaak by die Droogfontein CPA-eiendom naby Riverton nadat die pyplyn eers volledig leeggetap is. Sweiswerk aan ’n gekraakte taklyn is tans aan die gang.

By Midstation naby Roodepan is herstelwerk aan ’n gekraakte sweislas vroeër die dag reeds voltooi.

Die munisipaliteit sê die plan is steeds om die watertoevoer Maandagoggend te herstel sodra die pyplyn weer met water gevul is.