Nege-en-dertig konstabels in die Namakwa-distrik het hul rangtekens as sersante ontvang tydens ’n bevorderingsgeleentheid wat op 6 Februarie by die Springbok-speurtak se kantore gehou is.
Die seremonie is gelei deur die Namakwa-distrikskommissaris, brigadier Schalk Andrews, en is deur lede van die distriksbestuur bygewoon.
In sy toespraak het Andrews beklemtoon dat respek, dissipline en professionele optrede die grondslag van hul nuwe rang vorm. Hy het die nuut bevorderde sersante gelukgewens en hulle aangemoedig om hul nuwe verantwoordelikhede met toewyding te vervul.