Leerders van SA Van Wyk Hoërskool het gister die Kangnas Windplaas besoek as deel van voorbereiding vir ’n distrikswye kompetisie wat deur die windenergieprojek aangebied word.
Volgens die skool het die besoek aan leerders ’n praktiese kykie gegee na hoe windturbines werk en hoe skoon energie vir gemeenskappe opgewek word. Die uitstappie is ook gebruik om deelnemers se kreatiwiteit en kennis oor hernubare energie verder te ontwikkel.
Twee leerders, Eugenio en Petronicia, gaan die skool in die kompetisie verteenwoordig. Die skool sê die ervaring het groot opgewondenheid onder die span geskep en dat hulle vol vertroue is om die uitdaging aan te pak.
Die Kangnas Windplaas is een van die groot hernubare energieprojekte in Namakwaland en speel ’n toenemend belangrike rol in gesprekke oor volhoubare energie en ekonomiese ontwikkeling in die streek.