’n Groep gemeenskapslede van die breër Okiep-gebied het gister voor die Nama Khoi-dienspunt byeengekom om hul frustrasie oor beweerde swak dienslewering uit te spreek aangevuur deur n kennisgewing oor kredietregulering . Die inwoners wou die raadslid van Wyk 6, Leonard De Jongh, spreek oor kwessies wat volgens hulle reeds lank aandag benodig.

Hoewel De Jongh nie op kantoor was nie, het dit die groep nie gekeer om hul ontevredenheid duidelik uit te spreek nie. Alternatief het ’n gemeenskapslid die burgemeester van Nama Khoi, raadslid Rodney Kritzinger  probeer kontak met geen sukses.

Intussen het die Speaker van die Nama Khoi plaaslike munisipaliteit, Dr. Gustav Bock,  met die gemeenskap in gesprek getree. Tydens die gesprek het inwoners ’n tydelike oplossing voorgestel waarvolgens ’n 10 000-liter watertenk beskikbaar gestel sou word, mits die munisipaliteit dit met water vul. Die voorstel is volgens die gemeenskap aanvaar, waarna die tenk langs Radio NFM opgerig is.

’n Plakkaat wat op sosiale media versprei is, nooi intussen gemeenskapslede om vanoggend aan ’n betoging deel te neem vanaf die Nama Khoi-kantore na die kantore van Vaal Sentraal Waterraad. Die betoging sal na verwagting vreedsaam verloop. NFM Nuus sal die situasie monitor en verdere opdaterings verskaf.